Klasprojek idee

Hierdie klas projek val in by die tema water. In Oasis Kurrikulum noem ons hierdie tema “van druppels tot damme”.

Natuurwetenskap. Klasprojek: Ons eie dam.

Wanneer die personeel van die Gr R-klasse die vorige week hulle tema beplanning as ʼn groep doen, kan een klas hierdie projek onderneem.

Die kinders, saam met die opvoeder, beplan ʼn dammetjie waarin plante kan groei en moontlike watergoggas kan lok.

Beplan vooraf om ‘n plat bak, ou sandbak of iets dergeliks te bekom wat sal dien as die dam waarin water gesit kan word. Versamel ook plante wat in of rondom water groei. Indien moontlik, kan ʼn klompie mooi klippe ook bekom word.

  • Trek die omtrek van die bak af op die plek waar die dam gemaak gaan word in die skool se fantasie of tuingedeelte.
  • Die kinders meet die wand van die bak met ʼn stuk karton wat dan die diepte van die gat wat gegrou moet word, aandui.
  • Die kinders kry grafies en vurke en spit die grond uit om die holte te maak waarin die dam moet pas. Die wat nie spit nie, kan die grond wegdra wat uitgespit/gegraaf word na ʼn geskikte plek toe.
  • Kyk telkens of die bak mooi pas in die holte. Wanneer die bak se bokant gelyk is met die grond oppervlakte, kan dit mooi ingepas word. Maak die kante van die grond gelyk rondom die bak.
  • Die waterplante in potte kan nou in die dam gerangskik word en die wat buite-om die dam gaan staan kan in die grond geplant word.
  • Rangskik die klippe om die plante in en buite die dam.
  • Nou kan die dam met water gevul word. Sorg dat die dam oorloop sodat die plante om die dam ook water kry.
  • Die dam sal daaglike gevul moet word en oorloop om die plante in en om die dam nat te hou.
  • Die kinders doen waarneming van die groei van die plante en wat die kwaliteit van die water is. Merk ook op of daar ander plante begin groei soos byvoorbeeld groen slyk. Oorweeg dit om ʼn paar vissies soos gappies in die dammetjie te sit.
  • Onthou om alles weer in orde te stel indien die projek nie meer benodig word nie.